Beertjie bederf vir Klein Karoo kinders

Die wonderlike Rotariërs-beertjieprojek gaan nie net elke jaar van krag tot krag nie, maar lewer elke jaar die mooiste en mees kreatiefste beertjies op.

Die beertjies word heel jaar deur ’n groep vrywilligers gehekel of gebrei, waarna dit deel van die Rotariërs se Krismisboks-projek aan kinders regoor die Klein Karoo uitgedeel word.

Die projek het in 2021 afgeskop, met die eerste beertjies wat deel uitgemaak het van die KKNK se ReWOLusie-projek. Sedertdien het die projek elke jaar net van krag tot krag gegaan.

Vandat die projek die lig gesien het, is bykans 4 000 beertjies en poppies gemaak en aan kinders uitgedeel.

Die Krismisboks-projek word reeds vir 13 jaar deur die Oudtshoorn Rotariërs gedryf en het al voor die beertjies deel van die projek uitgemaak het, sowat 600 kinders per jaar bederf.

Vanjaar is ook dan geen uitsondering nie, met sowat 750 beertjies van verskillende groottes, kleure en karakters is met baie liefde gemaak. Onder die oulike karakters is ’n volstruis, seekatte, krokodille, ’n jakkals, visse, narre, asook die mooiste poppies en bere.

Die poppies word dan in pragtige skoenbokse gepak en oorgetrek met vrolike Kersfees geskenkpapier. In elke boks is daar nog ekstra bederf-items. Die krismisbokse word in die eerste twee weke van Desember by sowat tien kleuterskole in De Rust, Dysselsdorp en Oudtshoorn afgelewer. Kersvader gaan ook sy verskyning maak, op sy ysterperd, om geskenke uit te deel.

Persone wat nog krismisbokse wil skenk, kan die volgende items in ’n boks pak en dit afgee by Duvenhage, Keyser en Jonck se kantoor in Baron van Reedestraat 84.

Die items is: Tandeborsel, tandepasta, waslap en sepie, inkleurboek met vetkryte (of inkleurpotlode), tennisbal (of soortgelyke bal) en ’n pakkie jellielekkers. Kontantbydraes kan ook gemaak word. Kontak gerus vir Lézelma Pretorius by 084 582 3514 of Dalia Wilck by 084 620 0977. (ANGELIQUE ERASMUS)