Bakkiesleutels in Bergsig-huis gevind

Lourens de Villiers (66) met een van sy drie honde wat by sy liggaam gevind is. Foto: Susan Cillie

TWEE mans (30 en 23 jaar oud) en twee jong tieners verskyn vandag (22 April) in die Calitzdorp Landdroshof in verband met die moord op Lourens de Villiers (66). Dit volg nadat ‘n vierde verdagte gister by Besemkop net buite Calitzdorp in hegtenis geneem is in verband met die moord. Die ander verdagtes is ’n 14-jarige seun wat hom die naweek aan die Polisie oorgegee het en Maandag in die sorg van sy ouers vrygelaat is, ‘n 15-jarige seun en Aubrey Abrahams (30). Abrahams, die 23-jarige en die 15-jarige is in aanhouding.

De Villiers se lyk is Dinsdagmiddag (13 April) omstreeks 16:00 deur die Polisie buite sy blyplek by die Visarend Eko-oord by die Calitzdorpdam gevind. Sy blou Hyundai-bakkie, wat tydens die aanval gesteel is, is later verlate by Matjiesfontein naby Calitzdorp gevind.

Die drie verdagtes is die naweek deur speurders van die Calitzdorp Polisie en die Attaqua K9-eenheid in hegtenis geneem in verband met die moord.

Musieksentrum, bakkiesleutels in Bergsig-huis
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die 14-jarige hom Saterdag (17 April) aan die Polisie oorgegee. Ná verdere ondersoek is De Villiers se gesteelde musieksentrum en die sleutels van sy bakkie in ’n huis in Bergsig, Calitzdorp, gevind. ’n 30-jarige man is hierna in hegtenis geneem op aanklagte van moord en die besit van gesteelde eiendom.

Sondag is ’n 15-jarige seun ook in hegtenis geneem nadat hy positief met die voorval verbind is. Hy staan ​​ook tereg op aanklag van moord.

Familie wonder waarom De Villiers groep verlaat
’n Suster van De Villiers (66) het aan Die Hoorn gesê hulle het gewonder wat aan die gang is toe hul broer die Sondagoggend van 11 April skielik hul familiegroep op WhatsApp verlaat het.

Volgens haar het hulle aanvanklik vermoed dat De Villiers dalk besig was om na ’n ander selfoon-kontrak oor te skakel, maar het die Calitzdorp Polisie gekontak vir hulp toe hul oproepe en boodskappe steeds nie na sy foon deurgegaan het nie. Volgens haar was die familie glad nie voorbereid op die moord op De Villiers nie.

Sy het gevra dat die familielede nie geïdentifiseer word nie.

Volgens sy suster was De Villiers se liefde vir sy honde bekend. “Die Polisie sê een van sy honde is by sy liggaam gevind en wou hom nie verlaat nie.”

Huise is intussen deur die diereorganisasie Friends of Calitzdorp Animals (Foca) gevind vir sy drie honde, Bella, Lady asook ’n bejaarde en halfblinde Gigi.

De Villiers was die afgelope sowat twee jaar die bestuurder van die oord en het volgens sy suster alles in sy vermoë gedoen om dié oord te herstel tot sy vroeëre glorie. Hy was toe hy jonger was ’n nuusregisseur by die SAUK.

Sy suster het die inwoners van Calitzdorp en die Calitzdorp Polisie namens die familie bedank vir wat hulle gedoen het. “Baie mense was behulpsaam en het gehelp. Ons kan nie glo hoeveel reaksie ons van mense ontvang nie. Ons weet byvoor- beeld selfs nou ook dat hy lid was van die SA Weermagvereniging.”

’n Gedenkdiens vir De Villiers word vir 2 Mei om 11:30 op Robertson gehou en sal ook virtueel gevolg kan word. Hy word oorleef deur twee susters en ’n broer en was volgens sy Facebook-profiel geskei. (Deur Liesel le Roux)