Die onverklaarbare dood op Sondagoggend 11 Augustus van die 7-jarige Ashwin Jonkerman, ’n leerder van De Villiers Primêr, word nou as ‘n moordklag ondersoek.
Die Hoorn het verlede week berig dat Ashwin se ma, Drezene Jonkerman, die Sondagoggend kerk toe is, maar Ashwin saam met ’n vriendin van haar by die huis gelos het omdat hy moeg was en wou slaap. Met haar terugkeer by die huis, kon sy nie vir Ashwin wakker kry nie, en hy is later by die huis deur die ambulanspersoneel dood verklaar.
Na die afhandeling van ’n nadoodse ondersoek verlede week, blyk dit egter dat die omstandighede rondom sy dood verdag is en nou as ’n moordsaak hanteer word.
Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van Suid-Kaap Polisie, is die aanvanklike geregtelike doodsondersoekdossier na moord verander ná die voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoekverslag. Die verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek.
“Ondersoek rakende die omstandighede rondom die dood van die seun is aan die gang. Daar is egter nog geen arrestasie gemaak nie”, het Spies in sy verklaring aan Die Hoorn gesê.
In nog ’n voorval op Saterdag, 17 Augustus, is twee lede van die Dysselsdorp Polisie aangeval nadat hulle gereageer het op ’n klagte van gesinsgeweld in Mentoorlaan in Dysselsdorp.
Volgens ’n verslag het die polisielede met hul aankoms by die perseel ’n man gevind wat met ’n skerp voorwerp gewapen was. Hy het die polisiemanne gedreig en ’n onderonsie het ontstaan, waarna hy hulle aangeval het.
Versterkings is ingestuur en die 24-jarige man is in polisieaanhouding geneem.
Volgens sers. Chris Spies, het die twee polisiemanne beserings opgedoen en is hulle hospitaal toe geneem vir mediese behandeling. Die verdagte is ook in die hospitaal opgeneem.
“Twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer is vir verdere ondersoek geopen”, het Spies in ’n verklaring aan Die Hoorn gesê.