Aasvoëls kry tweede kans

Pas vrygelaat en op pad terug na sy kolonie toe. Die tweede aasvoël wat gered word, word vrygelaat in die De Hoop Natuurreservaat naby Bredasdorp. Onder: Glen Carlisle en sy span neem x-trale van die eerste aasvoël. Heel onder: Een van die twee aasvoëls word toegrus met ’n opspoorapparaat sodat hul na hul vrylating gemoniteer kan word. Foto’s verskaf

Eerste suksesvolle aasvoël rehabilitasie vir die Cango Wildlife Ranch-span!

Twee Kaapse aasvoëls is onlangs deur die Cango Wildlife Ranch in Oudtshoorn ’n tweede kans op lewe gegee.

Die eerste aasvoël het rehabilitasie ondergaan vir ’n abses aan sy voet nadat hy op 25 Julie deur ’n boer in die Potberg-omgewing opgemerk is. Die boer het Cape Nature gekontak, wat weer Cango Wildlife Ranch genader het om die aasvoël te help.

Werknemers van die Ranch het na Bredasdorp gereis en die span daar ontmoet.

Die aasvoël is na ’n plaaslike veearts, Glen Carlisle, geneem waar x-strale van sy voet geneem is, om die omvang van die besering vas te stel en die voël die nodige behandeling te gee.

Kort daarna is nog ’n aasvoël op 31 Julie na die Ranch geneem, nadat hy naby Swellendam aan ’n telefoonpaal vasgehaak het met sy vlerk.

Hy het na die grond geval, en Cape Nature en VulPro, gebaseer in Gauteng, het besluit om hom ook na die Ranch te neem.

Met sy aankoms in Oudtshoorn is dié voël ook na Carlisle geneem, waar hy ondersoek is en x-strale van sy vlerk geneem is om te verseker dat hy nie enige beenfrakture het nie.

Gelukkig was daar geen tekens van enige breke nie, en hy is saam met die eerste aasvoël in die rehabilitasiefasiliteit opgeneem.

Aasvoëls is ’n sosiale spesie en dit het nie lank gevat voordat die twee goed oor die weg gekom het en mekaar se geselskap geniet het nie. Dit het hulle ’n paar dae gekos om sterker te word, en hulle moes ook gereeld vloeistowwe toegedien word, omdat hulle gedehidreer was.

Dit het so goed gegaan dat beide aasvoëls uiteindelik na ’n oop hok geneem kon word, waar hulle in ’n groter omgewing kon herstel.

Hul vordering is verfilm en lede van die Ranch kon sien hoe die tweede aasvoël begin spring van tak tot tak en sy vlerke uitsprei en klap, amper asof hy wil vlieg.

Beide voëls is vrygelaat en terug in die sorg van VulPro geplaas.

Alhoewel aanvanklik beplan was om hulle gelyktydig vry te laat, bly die eerste aasvoël nog in die sorg van VulPro waar hy gereeld fisioterapie aan sy voet ontvang.

Beide voëls is toegerus met opspoorapparate sodat hulle gemonitor kan word.
In die vroeë oggendure van Maandag 4 September is die tweede aasvoël, sowat twee maande nadat hy opgetel is, vrygelaat in die De Hoop Natuurreservaat by die Potteberg-gasteplaas naby Bredasdorp.

Oomblikke nadat die vervoerkrat oopgemaak is, het die voël teruggevlieg na sy kolonie toe – ’n oomblik wat die redders trots, opgewonde en selfs ’n bietjie oorweldig laat voel het.

Wat hierdie vrylating so besonders maak, is die feit dat dit die eerste keer is dat die Cango Wildlife Ranch nie net een nie, maar twee aasvoëls suksesvol gerehabiliteer het.

Die De Hoop Natuurreservaat is ook die enigste kolonie Kaapse aasvoëls in die hele Wes-Kaap.

Van die sowat 8 aasvoëlspesies in Suid-Afrika word slegs twee as nie bedreig of kwesbaar geklassifiseer nie. Die meeste aasvoëlspesies is kwesbaar of bedreig omdat hulle slegs een eier per keer lê.

As hulle eet van ’n dier wat vergiftig is, kan tot 20 voëls op dieselfde slag sterf. (Deur Angelique Erasmus)