Aannemingsprosedures van skuthonde bevraagteken

Jessie (links) en Toffie Dinsdagaand by hul nuwe huis en mensmaatjies. Hulle is reeds baie tuis en speel te lekker. Foto verskaf

’n Inwoner wat twee hondjies by die Oudtshoorn-skut wou aanneem, het ’n hele aantal onbeantwoorde vrae nadat sy in kennis gestel is dat die hondjies George toe gestuur is en sy ’n bedrag van R1 700 aan ’n diere-organisasie in George moet betaal voordat sy die hondjies kan kry. Nadat haar vrae nie duidelike antwoorde opgelewer het nie, het sy Die Hoorn genader.

Met die vrou se besoek aan die skut meer as ’n maand gelede, het die skutmeester, Magda Davel, haar na ’n werpsel hondjies geneem wat beskikbaar was vir aanneming.

Sy het twee hondjies gekies, maar hulle was nog te klein om van die ma weggeneem te word. Die vrou het gereeld daarna vir die hondjies gaan kuier en ook aannemingsvorms geteken.

Op 7 November is sy deur Davel gekontak om haar in te lig dat die hondjies na George moes gaan vir inenting en dat sy hulle daarna kan kry.

Die dame het gevra dat sy ’n paar dae gegun moet word om die hondjies se blyplek reg te kry en Davel het aangedui dat dit in die haak is. Met haar navraag die volgende week is sy egter meegedeel dat die hondjies intussen siek geraak het en in George behandel word. Wat die omvang van die siekte was kon nie bevestig word nie.

Intussen is die dame deur Colleen Smith, van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), ingelig dat sy nie die hondjies kan kry nie omdat hul na Worcester toe gaan, maar dat sy twee ander hondjies by ODIN in George kan aanneem.

Die Hoorn het op 12 November saam met die dame na die Oudtshoorn-skut gery om uit te vind wat aangaan. Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, was ook daar en het die skutmeester opdrag gegee om die hondjies terug te bring skut toe.

Davel het ’n inspeksie van die perseel waarheen die hondjies sou gaan op 21 November gaan doen en toe vir die dame gesê sy moet R850 per hondjie oorbetaal. Sy het egter ODIN se bankbesonderhede gestuur.

Dit is onduidelik waarom die fooie aan ODIN betaal moes word as die aannemingsooreenkoms met die skut aangegaan is. Die dame het Davel laat weet dat sy nie bereid is om geld aan ODIN te betaal nie..

Die Hoorn het Maandag ’n navraag aan Colleen Smith van ODIN gestuur waarin gevra word waarom ODIN se bankbesonderhede deur ’n munisipale amptenaar verskaf word en ook wat ODIN se betrokkenheid by skutdiere is.

In reaksie hierop het Smith ’n stemboodskap gestuur waarin sy die volgende sê: “Ek verstaan nie waarom julle my kontak as dit niks met die media te doen het nie, en ek is nie lus om julle te antwoord nie, dit het niks met julle te doen nie. Ek het nie met julle gewerk nie en sy kan ons self kontak, sy is welkom om vir Magda te kontak aangesien ek nie kan sien wat dit met julle te doen het nie,” Geen verdere kommunikasie is ontvang nie.

Dieselfde navrae is ook aan die uitvoerende burgemeester gestuur waarop die volgende antwoord ontvang is: “Die kantoor van die burgemeester is tans besig met ’n ondersoek na die voorval soos deur u aangemeld. Ons sal u op hoogte hou van die uitkoms van die ondersoek. “

Intussen het Die Hoorn uit ’n betroubare bron verneem dat die twee hondjies glo nie siek was nie en slegs inentings ontvang het. In ’n boodskap aan die dame wat die honde wil aannneem het Davel gesê sy stuur die hondjies George toe aangesien daar glo ’n rotplaag by die Oudthoorn-skut is.

Davel het ook intussen laat weet dat die fooie in die munisipaliteit se rekening inbetaal kan word.

Dit is egter steeds onduidelik waarom ODIN by die aanneming betrokke geraak het en indien die hondjies aan ODIN behoort is die volgende vraag waarom ’n munisipale amptenaar dan op munisipale koste erfinspeksies doen en die aannemingsproses fasiliteer.

Tydens die termyn van die vorige burgemeester het Davel reeds opdrag gekry dat geen diereorganisasies se honde in die skut mag “loseer” en versorg word nie. Hierdie is nie die enigste voorval waarvan Die Hoorn bewus is waar skuthonde in die sorg van ODIN beland het, nadat die honde reeds aangeneem sou word nie.

Teen Dinsdagoggend was die hondjies steeds nie in Oudtshoorn nie en die dame wat hulle wil aanneem het Davel laat weet dat sy slegs direk met die skut sal werk en die geld direk aan die munisipaliteit sal betaal. Sy het die betaling by Kango Dierekliniek in die rekening van die munisipaliteit inbetaal, en die hondjies is laatmiddag by haar huis afgelewer.

Die Hoorn sal ’n opvolgberig doen sodra daar duidelikheid is oor presies hoe die munisipale skut se aanneemingsproses werk. Volgens ’n stemboodskap wat van Smith ontvang is, blyk dit dat ODIN in beheer is van die skut. (REDAKSIESPAN)