Klagtes teen Oudtshoorniet maak wêreldwyd opslae

Glen Snyman. Foto verskaf

Klagtes wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) teen ’n Oudtshoorniet aanhangig gemaak en weer teruggetrek het, het gister (14 Oktober) landwyd en selfs in die buiteland opslae gemaak met onder die BBC wat ook daaroor berig het.

Glen Snyman, ’n onderwyser en die stigter van die drukgroep PARC (People Against Race Classification) is aangekla van bedrog en wangedrag omdat hy in 2017 in ’n aansoek vir ’n skoolhoofpos die blokkie gemerk “African” afgemerk het. Dit het die WKOD gepla omdat Snyman volgens hulle bruin (“Coloured”) is.

Snyman is gekant teen rasseklassifikasie en het in Oktober 2019 ’n saak by die Arbeidshof aanhangig gemaak vir die verwydering van die rasseklassifiseringsblokkies op vorms.

“Apartheid staan egter nog in ons Suid-Afri­kaanse wet in die vorm van die rasseklassifise­ringsblokkies. Op die staatsvorms wanneer jy aansoek doen vir werk, moet jy aftik watter ras jy is,” het hy vroeêr vanjaar in ’n brief aan Die Hoorn geskryf.

Hy glo dat Suid-Afrikaners hul teenstand teen rasseklasifikasie te kenne kan gee deur die “African”-blokkie te merk wanneer hulle ras gevra word. PARC het ’n spotprent ontwikkel om dit te demonstreer.

Snyman se tugverhoor sou gisteroggend plaasgevind het. Die klagtes teen hom is egter voor die verhoor teruggetrek.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het gisteroggend in ’n persverklaring haar skok uitgespreek oor die klagtes teen Snyman en haar daarvan gedistansieer. Volgens haar het sy eers gisteroggend daarvan verneem en het sy dringend inligting oor die voorval aangevra.

Die EFF in die Wes-Kaap het op hul beurt gister ‘n skriftelike versoek aan die WKOD gerig om die tugverhoor teen Snyman te laat vaar.
(Deur Liesel le Roux)