DIE eienaar van ’n Amerikaanse veghond (pitbull) is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Die eienaar, Howard du Plessis (44) is skuldig bevind daaraan dat hy sy hond aangehits het om ’n 15-jarige seun te byt.
Die seun, Angelo Pikaan, is op 9 Februarie vanjaar in Saturnusstraat in Toekomsrus voor sy bors en aan die hand gebyt voordat hy daarin kon slaag om weg te kom.
Angelo het tydens die hofsaak getuig dat hy in die straat op ’n klip gesit het toe die beskuldigde met sy hond by hom verbygestap en vir die hond gesê het “Sa!” Die hond het glo ook al voorheen drie familielede van Angelo gebyt.
Du Plessis het die seun se weergawe ontken en aangevoer dat die hond losgeruk het toe hy ’n klip na die hond gegooi het. Streeklanddros Daniel Boks het egter Du Plessis se weergawe verwerp en die seun as ’n betroubare getuie beskryf.
Hy het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde moes geweet het dat sy veghond gevaarlik is. Volgens hom sien hy daagliks hoedat kinders met hul veghonde op straat loop asof dit ’n mode is en moet rem om die diere vas te hou.
Boks het sy kommer uitgespreek oor die feit dat die beskuldigde nie skuld erken het nie. “Wanneer jy ’n hond aanhou, moet dit wees omdat jy lief is vir honde en nie om ander mense seer te maak nie.”
Hy het Du Plessis tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en dit in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort, asook die drie jaar korrektiewe toesig wat behels dat hy 24 uur daagliks onder huisarres is vir die volle tydperk.
’n Vergoedingsbevel is ook gelas wat bepaal dat Du Plessis ’n bedrag van R1 000 aan die moeder van die seun moet betaal vir mediese en ander uitgawes wat sy moes aangaan. Du Plessis is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)