12-jarige sterf toe motor sy fiets tref

Cullan Boezak (12). Foto’s verskaf

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 12-jarige seun Saterdag (24 Oktober) in Zebra­weg in Bridg­ton na bewering deur ’n motor van sy fiets gestamp is en gesterf het.

Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het Cullan Boe­zak op die toneel gesterf. Die be­stuur­der het na bewering nie ’n rybewys nie.
Curwin de Beer (14), ’n ooggetuie en een van Cullan se beste vriende, sê hy en Cullan was die oggend omstreeks 09:30 op pad met hul fietse na hul afrigter se huis om uit te vind hoe laat hulle die middag aan ’n fietswedren sou gaan deelneem.

Curwin sê dit sou Cullan se eerste wedren wees as lid van ’n fietsry-ontwikkelingspan.

“Ons was almal so opgewonde!”

Volgens Curwin het twee taxi’s voor hulle in die pad stilgehou om passasiers op en af te laai, en het hy twee keer gekyk of daar ’n voertuig van voor kom sodat hulle kon verby­ry. “Ek het toe maar op die sypaadjie, aan die linkerkant, verbygery. Toe ek ’n derde keer wou kyk, toe hoor ek hoe ’n kar baie hard ry, en toe ek om­kyk, sien ek net hoe tref Cullan die windscreen en vlieg in die lug op.”

Curwin sê hy het onmiddellik sy fiets eenkant gegooi en na sy vriend geroep. “Hy het net op die grond gelê en vir my gekyk,” sê Curwin.

Hy het onmiddellik Cullan se ouers gaan haal.

“My hart is baie seer, en dit is baie moeilik vir Cullan se familie. Sy ouma wil dit amper nie glo nie. Cullan het altyd na ons kom roep en vir ons ge­fluit as hy wou speel of fietsry. Ons mis dit nou.

“Hy was ’n goeie mens, vol selfvertroue, altyd vol grappe en altyd vriendelik.”

’n Kranslegging vir Cullan is reeds vandeesweek gehou. Hy word Saterdag ter ruste gelê. (Deur Stefan Skapie Goosen)