Ergste vlieëplaag wat Prins Alberters kan onthou

Die Musca domestica, oftewel die huisvlieg, tans Prins Albert se grootste las. Foto: Marlene Malan

Die Musca domestica, oftewel die huisvlieg, tans Prins Albert se grootste las. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Prins Albert steier onder swerms vlieë – die ergste wat selfs dekadelange inwoners kan onthou.

Inwoners kla op sosiale media en ruil rate uit, en in die enigste kruidenierswinkel op die dorp was die vlieëgif verlede week in ’n stadium uitverkoop. Selfs van tot so ver as Beaufort-Wes mor mense oor huisvlieë wat die lewe onhoudbaar maak.

Anneleen Vorster, kommunikasiehoof van die Prins Albert-munisipaliteit en hoof: korporatief en gemeenskapsdienste, sê dié owerheid weet van die probleem. “Dis erger as in ander jare, maar dis ongelukkig buite ons beheer,” het sy by navraag gesê.

“Vlieë het hitte, vogtigheid en organiese produkte nodig om te floreer. Deesdae se hitte en vogtigheid het hul aantelery bevoordeel. En ons het ’n groot landboukern binne die dorp, wat genoeg organiese materiaal verskaf.”

Volgens Vorster het die munisipaliteit ’n gesondheidsinspekteur na verskeie plekke in die omge­wing gestuur “wat dalk ’n vliegoorlas kan ver­oorsaak, maar op een na is almal in orde ge­vind. Dit sluit die varkhokke langs die dorp in. Daar is dus nie een bron spesifiek wat aanleiding gee tot die probleem nie. Ons vermoed dit het eerder te doen met die welkome reën ná die lang tydperk van warmte.”

Die Hoorn het navraag gedoen by prof Mike Picker van die departement biologiese wetenskappe van die Universiteit van Kaapstad. Hy het foto’s van die spesifieke vlieë versoek en hulle geïden­tifiseer as die “alomteenwoordige huisvlieg Musca domestica”.

Hy stem saam dat die oorsprong van die pro­bleem by die weerpatrone lê. Volgens hom broei die larwes uit in verrottende organiese materiaal soos diereontlasting, vars bemesting, kompos en huisvullis.

“In warm toestande is dié vlieg se lewenssiklus binne twee weke voltooi. Hulle kom oral in Suid-Afrika voor, maar so ’n plaag breek uit in bepaalde weerstoestande wat die larwes se teel- en voedingsbron beïnvloed. Vlieglarwes het vogtige bronne nodig vir ontwikkeling, dié met ’n voginhoud van 50% tot 85%. Hulle sal nie eiers daarin lê as dit minder is nie. Aangesien daar, volgens die munisipaliteit se ondersoek, geen nuwe teelbronne in Prins Albert is nie, kan ’n mens aanneem die onlangse reën het dié bronne wat beskikbaar is, goed bevogtig en hulle méér geskik maak vir die lê van eiers en larweontwikkeling. Normaalweg ontwikkel vlieë in baie vars pluimvee- en beesmis, veral waar dit ophoop in krale en vogtig bly. Dis onwaarskynlik dat hoendermis die oorsaak is, omdat Prins Albert nie batterye het nie. As jy ’n hopie klam mis in ’n kraal sou opskep, sal jy sien dit wemel van maaiers. Vogtige hope verrottende groente- of plantemateriaal bied ook ’n goeie broeiplek. Die onlangse reën het waarskynlik die lewe van die larwemedium verleng deur dit vogtiger te hou as normaalweg. Dit het moontlik ook ander voedingsbronne – wat nie gewoonlik vir vlieglarwes geskik is nie – meer geskik hiervoor gemaak.”

’n Vlieguitbraak kom gewoonlik voor ’n paar weke ná ’n kombinasie van swaar reën en hoë temperature, sê Picker.

“Die volwasse vlieg leef omtrent ’n maand en kan tot 15 km ver vlieg. Die huidige vliegoorbevolking is waarskynlik die gevolg van ’n broei-ontploffing ’n paar weke gelede. As dit weer droër word, sal die larwebroeiplekke uitdroog en die vlieë verdwyn.”

Volgens hom hoef daar nie verder na ’n spesifieke oorsprong in Prins Albert gesoek te word nie, “omdat die vliegplaag ook in Beaufort-Wes voorkom, waar daar ander larweteelbronne is”.

Vorster sê dat alle oppervlakke in die huis, asook vuilgoeddromme, moet skoongehou word en honde­mis moet opgetel word.