Dinsdag by die KKNK: Hoe red mens ’n dorp?

’n Interessante gesprek met die titel Hoe red mens ’n dorp? vind Dinsdagoggend (29 Maart), die eerste dag van die KKNK, as deel van Die Burger se Praat saam-diskoersreeks by die Netwerk24 Feeskafee in die CP Nel Museum op Oudtshoorn plaas.

Volgens die inskrywing in die KKNK se Feesgids oor dié gesprek wil ditk veral die kollig laat val op die rol wat inwoners en gemeenskappe in dié verband kan speel: Die winde van verandering waai in SuidAfrika namate al hoe meer gemeenskappe hul politieke verskille agterlaat en self inspring om dorpe om te keer. Hulle maak slaggate reg en roei munisipale korrupsie uit om uiteindelik die plaaslike ekonomie te kan stimuleer. Hoe kry ons meer mense om eienaarskap van hul dorpe te neem? Hoe stimuleer ons entrepreneurskap in landelike gemeenskappe?

Dié gesprek begin om 08:30 en word deur Jody Hendricks van RSG-faam gelei met dr Willie Cilliers (voorsitter van die AHi Wes-Kaap), Chad Louw (burgemeester van Oudtshoorn) en dr Ruben Richards (burgemeester van Clanwilliam) wat sal saamgesels.

Die gesprek duur 60 minute. Toegang by die Netwerk24 Feeskafee is gratis. Die Praat Saam-diskoersreeks oor ‘n verskeidenheid onderwerpe sal elke oggend in die Feeskafee plaasvind.