Celebratio

Die Wonderful-granate wat in die Oudtshoorn-area verbou word, kan op gelyke voet kompeteer met dié van Chilé en Peru.

Granate: ’n ‘Wonderful’ geleentheid!

’n Israeliese granaatkultivar genaamd Wonderful, is besig om ’n wonderlike nuwe geleentheid vir boere in die Klein Karoo te skep. Met slegs vyf persent van wêreldproduksie in die Suidelike Halfrond is daar ’n groot wêreld-aanvraag na granate in die oesperiode van die Klein Karoo (laat Februarie tot Mei).

Sedert Augustus verlede jaar het agt boere 200 hektaar se Wonderful-granate in die Oudtshoorn-omgewing aangeplant en is ’n nuwe handelsmerk naamlik “Karoo Wonderful Pomegranates” gestig. In 2023 word die eerste vrugte onder dié handelsmerk uitgevoer.

“Die Wonderful-granate wat in die Oudtshoorn-area verbou word, kan op gelyke voet kompeteer met die granate van Chilé en Peru.

Die groep se mikpunt is om ’n verdere 100 hektaar Wonderful-granate in Augustus 2023 in die grond te sit in die Klein Karoo-omgewing. Met 300 hektaar se aanplantings sal die groep dan ’n wesenlike gedeelte van Suid-Afrika se Wonderful-produksie lewer.

Volgens Kobus Louw, hoof van operasies by Sapex, sal daar altyd ’n mark wees vir granate van hoë gehalte en standaard wat onder ’n sterk handelsmerk bemark word.

Onder leiding van die burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, Memory Booysen, word die padinfra-struktuur tans opgegradeer en is daar ook ’n proses begin om watersekuriteit vir van die plase te verseker, ten einde nuwe werksgeleenthede te skep.

Die uitvoerkissies is ontwerp deur APL Cartons. Verpakking speel ’n baie belangrike rol om nie net die vrugte te beskerm tydens die verskepingsproses nie, maar ook om as vertoonvenster vir die handelsmerk te dien.

Granate is die perfekte gewas vir die Klein Karoo se klimaat. Wat waterverbruik betref sal jy sukkel om ’n beter opbrengs per liter water te verkry.

Nog ’n voordeel van die Wonderful-kultivar is dat dit brak grond en water kan hanteer.

Bogemiddelde opbrengs per hektaar
Die Wonderful-kultivar bereik vol produksie in seisoen vyf. Met ’n gemiddelde oes van tussen 28 en 35 ton per hektaar behoort die produsent ’n netto wins van tussen R120 000 tot R180 000 per hektaar te verdien, afhangend van die boerdery-metodes.

Dit kos tans tussen R80 000 en R100 000 om ’n hektaar granate te vestig op nuwe grond, wat ook die besproeiing insluit. Opleistelsels se koste wissel volgens die ontwerp wat gekies word en is ’n verdere uitgawe in jaar twee.

Die gelykbreekpunt word in jaar vyf bereik, wat granate ’n uitstekende gewas maak.

Ontwikkeling en opleidingsessies
Karoo Pak bied gereelde werksessies vir die bestaande groep produsente aan waar kennis uitgeruil word en produsente gehelp word om optimaal en op volhoubare wyse granate te verbou.

Die opleiding help elke boer om die regte besluite vir sy boord te neem. Kenners is altyd byderhand om produsente van raad te bedien.

Een van hulle is Oupa Vermeulen, bemarkingsbestuurder van Agrofors en bemestings-kundige.
Volgens hom behoort ’n granaatboer ’n opbrengs van 30 ton per hektaar te verwag. ’n Goeie kunsmisprogram is nodig, wat ’n kombinasie van onderhouds- en produksiebemesting is. “Die koste van beide wat saam aangewend word sal tans so R20 000 per hektaar beloop,” sê hy.

Daar is volgens Oupa verskeie nuwe organiese produkte op die mark soos visemulsies wat goeie resultate lewer. “Die vervaardiging van die ou be-kende kompostee is ook intussen vernuwe en help om meer gebalanseerde bakterieë tot die grond toe te voeg. Aan die chemiese bemestingkant is dit die stadiger-vrystellende soort kunsmis wat veld wen asook die semi-verrykte kunsmis waar hoedermis as draer gebruik word.”

André Nel van Klein Karoo Agri se besproeiingsafdeling is nog een van die kenners wie se advies goud werd is. Volgens hom is die waterverbruik van granate ongeveer 6 500 m3 per hektaar per jaar.

Granate word vir nagenoeg agt maande van die jaar intensief besproei. “Ons ontwerp besproeiingstelsels volgens die behoefte van die blokke, die bome en die begroting van elke boer.

“Die belangrikste om na te kyk wanneer jy ’n nuwe gewas plant is waar jou water vandaan kom en wat die waterkwaliteit is. Toets dit voor die tyd en neem grondmonsters.

“Kyk voor die tyd wat dit jou per hektaar gaan kos en wat jou lopende koste per jaar gaan wees. As jou waterkwaliteit en grond goed is, gaan jy ’n goeie produk kan lewer,” sê hy.

Grondgesondheid
By die werksessie in Junie het Theo Geldenhuys van Biofarm Solutions met die produsente gepraat oor die voordele van ’n langtermyn-biologiese program op grondgesondheid.

Biofarm Solutions spesialiseer in mikrobiologie en organiese gecheleerde bemestingstowwe om baie komplekse kwessies op ’n meer natuurlike manier op te los.

“Deur ’n langtermyn-biologiese program te volg sal jou kunsmisgebruik verminder, jy sal die vog beter kan bestuur, jy sal plante hê wat gesonder is wat hoër energie beteken. Hulle kry minder siektes en is minder vatbaar vir vogstres, kouestres en droogte.

“Wanneer mikrobiese inokulante toegedien word, kry jy erdwurms en hoë humus in jou grond wat lei tot hoër koolstof op die langtermyn.

Wanneer jy hoër koolstof het, boer jy volhoubaar. Dan kán jy met minder kunsmis begin klaarkom,” sê Theo.

Volgens Theo is Biofarm Solutions se pasgemaakte program tussen 30 en 40 persent goedkoper as ’n tradisionele kunsmisprogram.

Eie pakstoor
Karoo Pak, wat deur die boere besit word, bedryf ’n Global Gap-pakhuis en doen die verpakking van die vrugte.

Daar is ook deurlopende produkontwikkeling. Van die interessante produkte wat reeds ontwikkel is sluit in granaatsap, -roomys, ’n olie en ’n Port-styl-wyn wat van die granaatsap gemaak word.

Die moontlikheid van ’n velsorg-reeks word ook ondersoek.

Die doel is om ’n mark vir alle vrugte te vind, wat tot ’n beter opbrengs vir die produsent sal lei.
Karoo Pak wil graag soveel waarde as moontlik toevoeg en markgereedprodukte vervaardig van die granate wat nie uitvoerstandaard is nie.

Nie net word meer werksgeleenthede daardeur geskep nie, maar daar word ook meer waarde in die Klein Karoo self geskep.