
Die Wes-Kaapse minister van Gesondheid, Normafrench Mbombo.
Deur Marlene Malan
VIR één aand sonder ’n TV in haar slaapkamer het die Wes-Kaapse minister van gesondheid nie kans gesien nie. Selfs al het sy in een van Prins Albert se stylvolste gastehuise met vyfster-dekor tuisgegaan en al het die gastehuiseienaar persoonlike diens aan dié DA-politikus gelewer.
Só het ontstoke Prins Alberters aan Die Hoorn vertel oor die onlangse besoek van minister Normafrench Mbombo en haar personeel aan die dorp. Die doel van die besoek einde Januarie was om haar te vergewis van die toestand van die staatshospitaal en die gehalte van sy diens. ’n Reisagent het een nag se akkommodasie vir die minister en ’n groep staatswerkers bespreek.
Maar ondanks die luukse geriewe van die gastehuis het die minister neus opgetrek vir ’n slaapkamer sonder TV. Sy het haar reisagent opdrag gegee om dadelik ander blyplek vir die groep te soek – een waarin Mbombo haar gunstelingprogramme in privaatheid kon kyk. Haar keuse het op die Hotel Swartberg geval.
Die vooruitbetaalde oornaggeld is nie van die gastehuiseienaar teruggevra nie. Volgens akkommodasiewebblaaie wissel tariewe vir kamers op Prins Albert tussen R750 en R1 100 per persoon per nag, en die hotel s’n tussen R990 en R1 200.
Ingeligtes wat anoniem wil bly, sê hulle skaam hulle vir die manier waarop Mbombo staatsgeld vermors het. “Ek het langs die gastehuiseienaar in haar huis gestaan toe ’n vrou bel om te sê die minister eis dat ’n TV vir die aand na haar kamer geskuif word. Die eienaar sê toe dis nie moontlik nie, omdat ’n skottelverbinding aangelê sal moet word. Die gastehuiseienaar het voorts gesê die minister en haar personeel is die enigste gaste dié aand en dat ’n TV in die gastesitkamer vir hulle beskikbaar is.
“Ek was daar en het alles gehoor. Die gastehuiseienaar het ook ’n oproep van ’n man gekry om te sê as daar nie ’n TV in die kamer is nie, sal die minister nie daar bly nie. Die eienaar was ontsteld en het ’n e-pos aan die reisagent gestuur om te vra wat haar te doen staan.
“Ek het daardie e-pos gesien; so ook die antwoord van die agent wat om verskoning vra vir die ongerief. Dié e-pos het uitdruklik gesê hulle skuif die minister omdat daar nie ’n TV in haar slaapkamer was nie.”
By navraag het Mbombo se woordvoerder, Zimkhhitha Mquteni, aan Die Hoorn gesê “wanneer die minister reis, beveel ’n agentskap ’n plek aan waar sy kan oorbly. Voordat ons plek bespreek is, is die Hotel Swartberg aanbeveel, maar dit was volbespreek en ’n alternatiewe plek is aanbeveel.
“ ’n Tussentydse bespreking is by die gastehuis gemaak. Toe ons daar aankom, het die minister se lyfwagte uitgevind dat die hotel wél kamers beskikbaar het en dis waarom die minister moes skuif.”
Hierop het Die Hoorn se bron gesê: “Dis ’n strooistorie”.
Nog ’n goed ingeligte Prins Alberter het dié inligting bevestig.