Leer ken die wêreld van vetplante

Veldwandelings in die Klein Karoo rondom Calitzdorp sal een van die hoogtepunte wees van die eerste Vetplantfees wat volgende week op dié dorp aangebied word. Foto verskaf
DIE Calitzdorp Vetplantvereniging bied volgende naweek (23 tot 25 September) ’n eerste Vetplantfees op dié Klein Karoodorp aan.
Die fees beloof om ’n uitstalvenster te wees vir baie van Suid-Afrika se mooiste en raarste vetplante, asook vir vetplante van oral in die wêreld.
En hoe gepas is dit nie dat so ’n fees in die hart van die Klein Karoo – ’n streek bekend vir sy vetplante – plaasvind nie. Dit sal feesgangers ook die geleentheid bied om baie van Suid-Afrika se inheemse vetplante in hul natuurlike omgewing te sien, en om vetplante te koop wat nie in kwekerye beskikbaar is nie.
Vetplantliefhebbers wat Calitzdorp tydens die fees besoek, sal deur die reeks aktiwiteite wat aangebied gaan word, blootgestel word aan die wêreld van vetplante.
Dit bied onder meer veldwandelinge onder die leiding van die plaaslike vetplantkenner Kevin Koen, praatjies deur kundiges, ’n potplantmark, uitstallings van vetplante en botaniese kuns, ’n veiling van seldsame plante en aktiwiteite vir kinders.
Die fees vind by die Calitzdorp Stasie plaas, vanaf 09:00 tot 16:30 op 23 en 24 September (Saterdag en Sondag). Dit eindig om 15:00 Maandag, 25 September. Toegang tot die stasieterrein is gratis.
• Bespreek vooraf vir die veldwandelinge (R150 per persoon). Besoek www.vetplant. co.za vir inligting en tye. Die praatjies deur kenners is gratis. Besoek www.vetplant.co.za vir meer inligting en tye.
• Die veiling van seldsame plante is Sondag om 15:00 en die bekendstelling van Robin Fransden se nuwe boek, Succulents of Southern Africa Sondag om 13:00.